Willem Franck

Follow on Facebook
Is Genade n Vrypad (Lisensie) om te Sondig?- Deel 6
29 June 2017 at 08:21pm

My hart gaan uit vir die wat gedurig vir my sê: "Met ander woorde jy sê, noudat ons onder die genade is kan ons maar doen wat ons wil".

Dit herinder my gewoonlik net elke keer hoeveel mense daar regtig is wat nog nooit die regte evangelie vir vandag se dispensasie van die genade van God gehoor het nie.

Daar is so baie geestelike minderbevooregtes wat in kerke sit waar 'n mengelmoes evangelie verkondig word.
Met ander woorde, waar Israel se instruksies en die genade evangelie in 'n geestelike versapper gegooi word
en nadat dit goed gemeng is vir hulle lidmate opdis om hulle skuldig te laat voel om beheer oor hulle te kry.
Hierdie lede is geestelik arm want hulle weet nie wat vaste spys is nie. Hulle ken nie die evangelie van die genade van God nie.

Genade sal nie verstaan word nie voor jy dit self regtig nodig het nie.
Vra maar die ouers wie se kind in die hof staan gereed om gevonnis te word en hulle weet dat 'n definitiewe tronkstraf onvermydelik is.
Vra hulle hoe hulle in hulle harte vir genade gebid het terwyl hulle die regter met smekende oë aangekyk het.
Maak nie saak hoe wettisties jy is nie meneer en mevrou...as jy in daardie situasie kom sal jy nie bid vir geregtigheid nie.
Nee, daardie oomblikke sal jy smeek vir genade want dan sal jy weet hoe kosbaar onverdiende guns regtig is.

Dit neem ook net een oomblik om die krag van genade te verstaan wanneer jou kind teen alle verwagtinge
wel genade ontvang en slegs 'n opgeskorte vonnis opgelê word.
Genade het al menigte harte van klip gebreek en veroorsaak dat warm trane onophoudelik oor dankbare wange rol.

Vra maar ook die ouers van 'n kind wat besig is om te sterf aan 'n oordosis dwelms.
Hulle staan by daardie kind en smeek God vir genade ongeag die roekelose lewe wat daardie kind gelewe het.
Die oomblik wanneer die masjiene skielik teen alle verwagtinge weer 'n hartklop toon rol trane van blydskap
oor dankbare wange van selfs die ongenaakbaarste wat gedurig gereed was om almal te veroordeel.

Die krag van genade is baie kosbaar.
Dit het al baie op 'n plek gebring waar hulle nog nooit was nie - teen die grond waar net genade hulle weer kon optel.
Vra maar die vrou wat in egbreek betrap is en voor Jesus se voete neergegooi was terwyl die godsdienstiges gereed was om haar te stenig.
Daardie dag het al die godsdienstiges omgedraai en beskaamd weggeloop toe die krag van genade in hulle midde gemanifesteer het.

Dink baie mooi na oor genade. Jy weet nooit wanneer jy dit die dag gaan nodig kry nie !!!

>> Deel 7