Willem Franck

Follow on Facebook
Is Genade n Vrypad (Lisensie) om te Sondig?- Deel 9
04 Julie 2017 at 07:36am

Veronderstel ons is 'n rugbyspan, jy is een van die spelers en ek is die spanbestuurder.
Jy het gedurende die wedstryd baie foute gemaak, insluitende twee geelkaarte en daarna 'n rooikaart gekry en agv daarvan het ons die wedstryd verloor.

Die Maandag is dit die spanbestuur vergadering en jy weet voor jou heilige siel dat jy jou plek in die span kwyt is en boonop jou bonus gaan verloor,
nie eers te praat oor 'n moontlike keuse in die Springbokspan vir die opkomende toetse nie.

Na die spanbestuur vergadering roep ek jou en die afrigter in om persoonlik met jou te praat.
Jy het presies geweet dit gaan gebeur en jy weet sulke tyd het nou aangebreek. Nadat jy gaan sit het deel ek jou die volgende mee:
"Seun, ek besef jy het Saterdag riller dag beleef, maar dit gebeur maar met almal.
Toe ek nog gespeel het het ek sommer 'n paar sulke dae gehad.
Daardie geelkaarte en daarna rooie is eintlik onverskoonbaar, maar ek verstaan jy het bietjie fokus verloor en dit het die span onder druk gesit.
Al wat ek wil hê jy moet doen is om daaruit te leer.
So, kom ons vergeet daardie wedstryd... Saterdag is weer 'n groot een en ons moet hom wen.
So, kry jou fokus op Saterdag se wedstryd en doen wat ek wéét jy kan doen. Ek weet jy is 'n wedstryd wenner.
Dis immers hoekom jy in die span is. Ek glo in jou, ek het al die vertroue in jou en ek weet jy kan.
Ek weet ook jy het die potensiaal om die toets Loskakel teen die All Black's te wees.
Gaan motifeer die manne en geniet Saterdag se wedstryd".

Beteken dit nou dat omdat jy oor die hoof gesien is dat jy nou toestemming het om Saterdag weer moedswillig te wees en gemors aan te jaag?

Beteken hierdie vryspraak en motifering dat jy liewer moedswillig wil wees, óf het dit jou gemotifeer om alles in te sit en jou beste gee omdat jy soveel respek en eerbied vir my het?

Verseker gaan jy die wedstryd van jou lewe speel !

Wel, dit is dieselfde met genade.
Omdat ek genade ontvang het en vry gespreek is beteken nie en kan nou roekeloos lewe nie.
In Sy Woord bemoedig God my keer op keer dat Hy lief is vir my, vir my omgee, dat ek kosbaar is, dat Hy jaloers op my is, dat Hy my die krag gee, dat Hy met my is, ens.

Verseker het ek hopeloos nét te veel respek, eerbied en liefde vir Hom en daarom wíl ek Hom graag behaag.
Daarom wíl ek en gáán ek die lewens wedstryd van my lewe vir Hom speel.
Ek weet mos die hemele is my erfenis.

"Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ‘n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke" (Tit 2:11-14).