As ek my getuienis moet gee sal ek begin deur vir Vader baie dankie te se dat Hy aan my hierdie voorreg geskenk het om Hom deur Musterion beter te leer ken. Ek begin my pad met die Here in 1997. Vandaar af het ek altyd maar n soeke gehad na die waarheid, maar daardie leemte kon nooit gevul word nie. Vier jaar gelede bring die Here musterion my pad langs. Vir die eerste keer ervaar ek n gemoedsrus wat nooit voorheen daar was nie. Daardie leemte en soeke na die waarheid het die Here vir my gevul. Nooit sal ek hierdie genade bediening verruil vir enige iets in hierdie wëreld nie.


Onsettend baie 'pressure' en skuldgevoelens van my afgevat. Het my sekerheid gegee.


Ek was 'n pastoor in 'n pinksterkerk sedert 1980. Ek het altyd geweet daar is iets verkeerd. Daar was té veel teenstrydige verse in die Bybel as jy almal se evangelies in een pot gooi en opdis? Ek het ook altyd diep in my hart geweet my 'tale' en 'profesieë' was nie van die Here nie. Nadat ek tot kennis van die 'epignosis' (die VOLLE kennis van die openbaring van Christus) gekom het, het alles soos 'n boek voor my oopgegaan. Alles waaroor ek altyd gewonder het was skielik duidelik. Pinkstergelowiges glo natuurlik ook in die wonderlike dispensasionele leer, maar ongelukkig verstaan, of erken hulle nie die openbaring van die verborgenheid wat Christus aan Paulus geopenbaar het nie.


Ek het altyd gevoel iets is nie reg met dit wat my geleer is in die kerk nie. Het baie vrae gehad. Die doop was vir my een groot kopseer. Het altyd ongemaklik gevoel wanneer kindertjies gedoop word. Die gevoel hier binne wou nie wag gaan nie. Augustus 2014 het ek iets op Mustiorion se blad gelees waar ek die besluit geneem het dat die duiwel my nie sal kry nie. Die volgende oggend het ek anders gevoel. Ek is verseël in my redding wat God uit genade aan ons gegee het. Ek het begin bybel lees asof ek nooit weer die kans gaan kry om dit te doen nie en in Paulus se briewe het ek die genade boodskap van totale redding sonder werke ontdek. Ek was vry van alle skuld gevoelens en het vir die eerste keer gevoel ek leef. God het my lief soos ek is. Ek hoef nie myself nie te bewys deur dinge wat ek doen nie. Ek verstaan en al die vrae en vreemd voel oor goed is weg.


Die 'Right Dividing' leer het regtig die Bybel oopgemaak, nou verstaan ek tekste wat nog altyd moelik was om te verduidelik


Vir baie jare was dit my bediening om almal se Bybel vrae te probeer antwoord. Ek het ‘n tesis geskryf met 1412 algemene vrae en antwoorde uit die Bybel, maar na jare se onophoudelike studies het baie dinge vir my persoonlik steeds nie sin gemaak nie. Ek was instaat om ander se vrae te beantwoord - hulle was gelukkig, maar in baie gvalle was ek in my eie hart nie oor die antwoord oortuig nie.

Gedurig moes ek lees en hoor hoe die intellektuele magsbok van hierdie wêreld die kerk onophoudelik aanval oor die Goddelike inspirasie van die Bybel. Hulle ontken dit as gevolg van verskeie teenstrydighede daarin. Enige Bybelstudent wat die Bybel ken en eerlik met homself is sal kan erken dat daar baie teenstrydighede in die Bybel is, selfs in die evangelie van redding wat ons verkondig. Na my ontmoeting met die Dispensasionele Pauliniese leer het alles egter vir my oopgegaan. Vir die eerste keer het ek gesien dat hierdie "teenstrydighede" nie regtig teenstrydighede is nie, maar dat God met verskillende mense in verskillende tye (dispensasies) gepraat het. Alhoewel God onveranderlik is, het Sy program met die mens deurentyd verander. Byvoorbeeld, Adam se opdragte buite die tuin het verskil van sy opdragte binne die tuin. Abraham se opdragte het verskil van Adam en Noag se opdragte. Abraham het nie die opdrag gekry om 'n ark te bou nie, en het in sy tyd ook nie die wet gehad om te gehoorsaam nie. Moses het die wet ontvang en Israel moes dit gehoorsaam, maar het nie opdrag gekry om soos Noag 'n ark te bou, of soos Abraham sy seun te gaan offer nie. Net so verskil die opdragte van die liggaam van Christus soos dit uiteengesit is in die 13 briewe van Paulus met die opdragte van Israel in die O.T, die vier evangelies tot diep in die boek van Handelinge. So kan ons ook 'n duidelike verskil sien in die evangelie voor die kruis, en die evangelie na die kruis.

Al hoe ons hierdie verskille kan raaksien is as ons Paulus se opdrag in 2 Tim. 2:15 verstaan en gehoorsaam om die Woord reg te sny (verdeel). Dis soos om ‘n koek te verdeel. Eers dan sal ons instaat wees om onderskeid te kan maak tussen Israel en die liggaam van Christus. Die rede waarom ek en baie ander hierdie verskille nie kon raaksien nie is omdat ons van kleins geleer was dat die kerk die geestelike Israel is, of die kerk in die plek van Israel gekom het. Dit was eers nadat ek die opdrag om die Woord reg te "sny" (2 Tim. 2:15) verstaan het, dat dit vir my duidelik geword dat die hele Bybel vir ons lering geskryf is (2 Tim. 3:1), maar nie alles aan ons geskryf is om te onderhou nie.

Dit is ook eers wanneer jy die verskil tussen Israel en die liggaam van Christus verstaan dat jy Israel se profetiese program en die liggaam van Christus se verborgenheid program sal waarneem. Dan is dit eenvoudig om te verstaan dat die nuwe dispensasie van die genade van God hemelsbreed verskil van die ou dispensasie van die wet.
Om alles saam te vat is dit dus duidelik dat ons die Bybel dispensasioneel moet verstaan en bestudeer. So nie sal ons ‘n mengelmoes van verskillende leringe uit verskillende dispensasies verkondig en dan sal ons nie werkers wees wat beproef voor God is nie en moet ons ons ook skaam vir die evangelie en leringe wat ons verkondig (2 Tim. 2:15). Om hierdie rede is daar ongeveer 40.000 verskillende Christelike denominasies in die wêreld en elkeen het Skrif om sy leerstelling te staaf. Die waarheid is dat al sou ‘n lering Skriftuurlik korrek wees, maar dispensasioneel verkeerd, dit verkeerd sal wees. In dieselfde sin is die meeste kerke vandag Skriftuurlik korrek, maar dispensasioneel verkeerd. Paulus sê in 2 Timotheus 3:16 dat "die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering...". Die hele Skrif sal egter nie nuttig wees as ons dit nie "reg sny" (verdeel) nie. Om hierdie rede het Paulus ons vermaan om die Woord van die waarheid reg te sny (2 Tim. 2:15). EERS DAN SAL DIE HELE BYBEL VIR ONS SIN MAAK.